Van Zyl Retief

Daar bestaan baie verwarring rondom die onderskeid tussen ’n ‘Public Benefit Organisation (“PBO”)’, ‘Nonprofit Organisation (“NPO”)’ en ’n ‘Nonprofit Company (“NPC”)’. Alhoewel daar soortgelyke karaktereienskappe tussen hierdie liefdadigheidsentiteite bestaan en alhoewel hulle in ’n sekere mate met mekaar verband hou, is elkeen van hierdie tipes entiteite verskillend van die ander entiteite en elkeen dien ’n ander doel.

Elkeen van voornoemde entiteite word ook by verskillende regeringsorganisasies en departemente geregistreer, wat die onderskeid verder beklemtoon.

’n NPO word gedefinieer deur die Nonprofit Organisations Act No 71 of 1997 as ’n trust, maatskappy of enige ander assosiasie van individue wat gestig word vir:

  1. ’n publieke doel; en
  2. waarvoor die inkomste en eiendom nie verdeel word onder die direkteure of lede andersins as vir die verkryging van redelike vergoeding vir dienste gelewer aan die entiteit nie.

Die doel rondom die registrasie van ’n organisasie as ’n NPO is om toelaes te ontvang vanaf die regering, soos byvoorbeeld fondse wat verkry word vanaf die Nasionale Lotery Raad. ’n NPO word geregistreer by die Departement van Sosiale Ontwikkeling.

’n NPC word gedefinieer deur die Maatskappywet No 71 van 2008 (“die Wet”) as “’n maatskappy wat:

  1. geïnkorporeer word vir openbare voordeel soos vereis word deur item 1(1) van Skedule 1 van die Wet; en
  2. waarvan die inkomste en eiendom nie verdeel word onder die direkteure, beamptes of persone wat verbind is enigsins tot die maatskappy nie.” ’n Organisasie moet aansoek doen om geregistreer te word as ’n NPC by die Companies and Intellectual Property Commission (“CIPC”). Die organisasie sal dan dieselfde eienskappe en voordele hê van ’n privaat of openbare maatskappy. ’n NPC kan met of sonder lede geregistreer word.

Die Inkomstebelastingwet 58 van 1962 (“die Inkomstebelastingwet”) definieer ’n PBO as enige organisasie wat:

  1. ’n nie-winsgewende maatskappy, trust of assosiasie van persone is soos gedefinieer in artikel 1 van die wet wat geïnkorporeer of gevorm is in terme van wetgewing; of
  2. enige tak van ’n maatskappy, assosiasie of trust wat geïnkorporeer of gevorm is en wat vrygestel is van inkomstebelasting waarvan die hoofdoelwit is om een of meer openbare belang aktiwiteite te dryf waar –
  • sulke aktiwiteite uitgevoer word op ’n nie-winsgewende manier met ’n filantropiese bedoeling; en
  • hierdie aktiwiteite nie bedoel is om direk of indirek enige belanghebbende of werknemer van die organisasie ekonomies te bevoordeel nie, andersins as vir betaling van redelike vergoeding vir die werknemer of belanghebbende se diens aan die maatskappy; en
  • die aktiwiteite wat deur die organisasie uitgevoer word vir die voordeel is van die wyer publiek.

Wanneer daar verwys word na ’n PBO, word daar nie verwys na ’n organisasie wat geregistreer of geïnkorporeer moet word as ’n liefdadigheidsentiteit soos by ’n NPC of NPO nie. Die doel van PBO-status is om die organisasie die geleentheid te bied om vrygestel te word vir belastingdoeleindes.

Vir ’n organisasie om te kwalifiseer vir PBO-status, moet ’n organisasie onder andere een of meer van die verskeie ‘openbare belange aktiwiteite’ beoefen in terme van die Inkomstebelastingwet. ’n Aansoek vir PBO-status word aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (“SAID”) gerig.

Dit is belangrik om daarop te let dat alhoewel ’n NPO, NPC en ’n entiteit met PBO-status verskillende karaktereienskappe het, sluit die werking van een van hierdie tipes organisasies nie die werking van ’n ander een uit nie. ’n Organisasie kan dus registreer as ’n NPO, NPC en PBO solank as wat al die kriteria en vereistes vir die tipe registrasie aan voldoen word.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik word of op staatgemaak word as regs- of ander professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade voortspruitend uit vertroue geplaas op inligting hierin vervat nie. Behoudens foute en weglatings (BFW).

We use cookies to improve your experience on our website. By continuing to browse, you agree to our use of cookies
X